Die geskiedenis van die eerste jare van die skool se bestaan…

‘n Nuwe skool langs die N1-deurpad in die ooste van Pretoria is op 9 Januarie 1979 met mnr. H.M.G. Davin as waarnemende hoof, geopen. Die 215 standerd 6 en 7-leerlinge was in hulle vorige skole se skooldrag geklee. Slegs 12 klaskamers was voltooi en 12 onderwysers het die eerste personeel gevorm.

Op 6 Maart 1979 is die besluit geneem dat die skool Hoërskool Waterkloof sal heet – vernoem na die plaas waarop die skool gebou is. Daar is dadelik met naskoolse aktiwiteite begin: ‘n spreekkoor, dogterskoor en toneelgroep is gestig.  Atletiek is in die veld geoefen en die eerste rugbyspanne is saamgestel.  Die O/15B-span het toe die liga gewen!  Netbal-, skaak-, swem- en tennisspanne is saamgestel.

Die skoolleuse: “Ons bou in geloof” is op 2 Julie goedgekeur en die skoolgebou is op 3 Augustus oorhandig.  Die leerlinge het op 6 Augustus met hulle nuwe blou skooldrag skool toe gekom!

Op 2 Januarie 1980 het mnr. P. van der Merwe Martins as eerste permanente hoof by die skool sy taak begin. Die skool het tot 393 leelinge en 20 onderwysers gegroei.

Die eerste groentjiekonsert is op 25 Januarie gehou en in Februarie het die ouers, personeel en leerlinge begin gras plant.

Die skoolwapen is op 4 Februarie deur die Skoolkomitee goedgekeur. Die woorde van die skoollied is deur prof S.J. Pretorius geskryf en is deur prof. B.S. van der Linde getoonset. Op 18 September 1980 is die skool amptelik deur die Direkteur van Onderwys, prof. dr. J.M. Jooste geopen.

Die sportspanne het begin presteer en sommige was ligawenners. Ses meisies was in die Noord-Transvaal gimnastiekspan. Op kultuurgebied het Klofies begin presteer en ‘n standerd 8-redenaarspan het die junior afdeling van die Noord-Transvaalstreek gewen en Wynand Louw het na die nasionale rondte van die ATKB-redenaars deurgedring.

In 1981 is die hokkieklub gestig en die skoolkoerant, die “Martiens” (vernoem na mnr. Martins) het die lig gesien.

In 1982, toe die skool sy eerste matrieks gehad het, was die leerlingtal reeds 895.

In Januarie 1982 kon atlete op die skool se eie atletiekbaan oefen.  Die skool het die E-bond interhoëratletiekbyeenkoms, sowel as die sangbeker, gewen.  Die eerste tennisbane is in gebruik geneem en die eerste skaakspan het die interskole-wisselbeker verower.Deirdre Scheepers is vir die Springboktrampolienspan gekies.

Die eerste matriekgroep van 101 leerlinge het almal geslaag en 70 vakonderskeidings behaal.  Drie leerlinge het ses onderskeidings gekry.

In Januarie 1983 het die skool reeds 1060 leerlinge en 57 personeellede gehad.  Die eerste tydelike lokale moes opgerig word.

Tydens die interhoëratletiekbyeenkoms het Klofies omtrent al die bekers en trofeë gewen.  Prestasies in al die naskoolse aktiwiteite het verbeter.

Die standerd sesse is in 1984 vir die eerste keer “Druppels” genoem.  Die atletiekspan het die C-Bond en verskeie trofeë verower en daar is begin met die bou van ‘n pawiljoen.  Noord-Transvaalkleure is in verskeie sportsoorte verower.  Die eerste operette is aangebied.

Die jaar 1985 het met 1404 leerlinge en 71 personeellede begin. Lydia Venter was lid van die Springbokgimnastiekspan. Geld is ingesamel om kriekettoerusting te koop en ses spanne is vir die liga ingeskryf.

In 1986 het die skool met 1551 leerders begin wat reeds dubbel die getal van 750 was waarvoor die skool gebou is. Die atletiekspan het die B-Bond gewen.  Pietie Norval het sy Springbokkleure in tennis verwerf en Lydia Venter was weer lid van die Springbokgimnastiekspan.

Die skoolkoor het op 27 Mei 1986 hulle eerste openbare optrede tydens die Applouskompetisie gehad.

Die Klofies het op alle gebiede presteer.  Die A-atletiekspan het op 24 Februarie met hulle eerste deelname in die A-Bond, die byeenkoms gewen. Die seuns- en dogterspan het ook gewen. Die pawiljoen is die jaar in gebruik geneem.

Die Afrikaanse toneelgroep verower op 29 Augustus die Direkteurstrofee.

Mnr. Martins het die skool na 8 jaar diens, verlaat, aangesien hy tot Inspekteur van Onderwys bevorder is.

In 1988 het die atletiekspan weer alle afdelings van die A-Bond gewen.  Die O/14A- en O/15A-rugbyspan was Noord-Transvaalwenners.

Op 1 Augustus 1988 aanvaar mnr. F.J. van Dyk sy pos as nuwe hoof van Hoërskool Waterkloof.

Die jaar 1989 was ‘n besondere jaar vir atletiek met oorwinnings by alle byeenkomste en individuele prestasies op provinsiale en nasionale gebied. Yolanda Steyn is as Junior Springbok in atletiek gekies.  Netbal het Noord-Transvaalwenspanne gehad.

Daar is met fietsry as sportsoort begin.

Anton Julyan het aan die nasionale finaal van die ATKB-redenaarskompetisie deelgeneem.  ‘n Kultuurinisiatief, Artium Vesper is begin. Sewe matrieks het die Presidentsverkennertoekenning van die Voortrekkerbeweging ontvang. Anina van der Bijl is as Junior Burgemeester van Pretoria gekies.  Die Yamahavleuelklavier is vir die saal aangekoop. Die leerlingraadslede het begin om wit hemde te dra om hulle uit te ken.

Erkenning vir topprestasies is in 1990 vir die eerste keer toegeken. Carel le Roux was die ontvanger van die Honoris Causa.

Die tweede hoof, mnr. F. J. van Dyk is tot Superintendent van onderwys bevorder.

Die spreiligte op die A-veld is op 17 Januarie die eerste keer gebruik.  Die atletiekspan maak oral skoonskip en Burger Lambrechts verbeter die SA O/17 gewigstootrekord. Netbal het die eerste plek in die A-Bond behaal.

Anton Julyan het vir die tweede keer in die senior afdeling van die nasionale finaal van die ATKB-redenaars deelgeneem. Die skoolkoor het die eerste keer in hulle blou en geel togas opgetree.

Aan die begin van 1991 aanvaar dr. L.C. Becker diens by die skool as derde pemanente hoof.

Die eerste Mnr. en Mej. Waterkloof is gehou en Helga Vorster en Landis Lategan was die eerste gekroondes.

Die atletiekspan het alle kompetisies gewen en 15 atlete is in die Noord-Transvaal Junioratletiekspan opgeneem.  Frits Potgieter en Burger Lambrechts is vir die SA Skolespan gekies en Frits het die O/17 diskus- en gewigstootrekord verbeter.

Die eerste netbalspan was Noord-Transvaalwenners. Daar is met gholf as sport begin.

Tydens die nasionale Expo vir Jong Wetenskaplikes het Klofies ‘n goue en silwer medalje verower.

Die sluitkassies is aangebring.

Die skool het na ‘n Model C-skool oorgeskakel, die Bestuursraad het die Bestuursliggaam geword en ‘n Oueronderwysersvereniging is gestig.

In 1992 het die atlete steeds puik presteer. Frits Potgieter het die SA O/19 diskusrekord verbeter en ‘n silwer medalje op die Junior Wêreldkampioenskap in Seoel behaal. Die junior dogterslandloopspan was SA Skolekampioen.  Die eerste rugbyspan het die Direkteurstrofee verower.

Johan Sauer het in die junior afdeling na die nasionale finaal van die ATKB-redenaars  deurgedring. Annemie Jordaan was onderburgemeester van die Junior Stadsraad van Pretoria. Lentedag het ‘n pretdag geword.

In 1993 was Klofies nog steeds op die  bopunt van die atletiekleer. Karel Potgieter en Louise Schoeman is vir die SA Skole-atletiekspan gekies. Jeff Coetzee, Surina de Beer en Jaco van der Westhuizen is in die SA Skoletennisspan opgeneem. Annemie Jordaan het aan die nasionale finaal van die senior ATKB-redenaars deelgeneem.

Die eerste 10-jaar matriekreünie is op 8 Oktober gehou.

Die atletiekspanne het in 1994 die huidige name gekry: Orkane, Tifone, Siklone en Tornado’s. Atletiek was steeds op die wenpad en die dogters het die Direkteurstrofee verower. Vier atlete is in die SA Skole-atletiekspan opgeneem en Marna Schutte  verbeter die SA-rekord in die 400m dogters O/17.

Surina de Beer het aan verskeie internasionale tennistoernooie deelgeneem en saam met haar dubbelspelmaat die Wêreldjeugbeker vir O/16-spelers in die VSA gewen. Stephan le Roux is vir die SA Skole-rugbyspan gekies en Vanessa Becker het aan die SA O/15 netbaltoernooi deelgeneem.

Die Wolwespruit-omgewingsbewaringsprojek is van stapel gestuur en F. C. Buys het in Koeweit aan die internasionale Expo vir Jong Wetenskaplikes deelgeneem.

Op 18 April 1994 is die skoolkoshuis, Klofiesig, geopen.  Die erekleurbaadjies met die strepe is in die jaar die eerste keer gedra.

Klofies het steeds SA atlete, rugby- en tennisspelers opgelewer. Skaak het geblom. Al die spannne was ligawenners en Gusti van Zyl was die SA O/19-skaakkampioen.

Die Artium Vesper is herdoop na die Klofie Kunstefees.

Na 15 jaar  is meeste “eerstes” afgehandel en was Hoërskool Waterkloof op alle terreine ‘n skool waarmee rekening gehou moet word. Prestasies van Klofies is jaarliks fenomenaal met nasionale en internasionale prestasies op talle gebiede.