|
Klofie-skaak maak slim skuiwe… maak jou skuif na Klofies!
-
Hoërskool Waterkloof bedryf ‘n Skaaksentrum vir Uitnemendheid, met vier satelliet-akademies:
-
Sportopvoeding Skaak is ‘n volwaardige keusevak (in skooltyd) vir graad 8- en 9-leerders. Die onderrig word behartig deur Nicholas van der Nat. Leerders het vier klasse in skooltyd per 7dag-siklus, met ‘n 3:1 verdeling tussen praktiese en teoretiese werk. Die praktiese werk is gedifferensieerd (volgens individuele spelvlak) en sluit ook rekenaarskaak, oefenspelle, openingstudie, spelontledings en skaakmedia in. Die rapportpunt word hoofsaaklik met teoretiese werk verwerf: skaakvaardighede en -reëls, die ontwikkeling van skaak vanaf die klassieke meesters tot die nuutste moderne skaaktendense, bestudering van die skaakmeesters van die wêreld, kontak met ander internasionale skaak-akademies, skaakkennis van endspelle, taktiese en posisionele spel, FIDE-skaakreëls asook die skryf van Chessa Toesighouer/Arbiter-eksamens (eksterne eksaminering).
-
Aandklasse word by die skool se NUSA (Na-ure Skaak-Akademie) aangebied - drie aande per week, vir alle belangstellende Klofies. Ons kies soveel ligaspanne as wat daar Klofies is wat belangstel om te speel en al ons ligaspanne kry afrigting.
-
By ons “Jong Talent Skaakskool” groei laerskool-skaakspelers onder leiding van top afrigters. Dit vind op weeksmiddae in die skaaksentrum plaas – individueel en gedifferensiëerd.
-
Ons bedryf die internasionale Moves for Life-skaakontwikkelingsprogram (wat ook skaak gebruik om Wiskunde-, Wetenskap- en Lewensvaardighede te ontwikkel), in samewerking met die Kasparov Chess Foundation, besigheidsleiers en gemeenskapsleiers. President Zuma is die beskermheer van die program en dit word ook deur minister Angie Motshekga (Minister van Basiese Onderwys) ondersteun. Tans implementeer ons twee skaakontwikkelingprogramme (miniChess en masterMoves) by skole in al nege provinsies van Suid-Afrika, met 400+ onderwysers wat deur ons opgelei is en meer as 80 000 leerders wat weekliks ons programme doen. Die Kasparov Chess Foundation-Africa neem ons hand om die Moves for Life-program ook in ander Afrika-lande te implememteer.
-
Ons is geëerd dat Grand Master Garry Kasparov vanaf 2013 sy Kasparov Chess Centre for Top chess players in Africa vanuit ons Skaaksentrum gaan bedryf. Hy besoek ons ten minste twee keer per jaar en ondersteun ons Moves for Life-program! Baie ander topskaakspelers vanoor die wêreld besoek ons: GM Nigel Short, GM Pablo LaFuente, GM Simen Agdestein, IM Bob Wade en IM Nicolai Getz asook die studente van die NTG-sportskool in Oslo. FIDE en Chessa ondersteun die aktiwiteite van ons Skaaksentrum! Ons Moves for Life-program geniet baie media-blootstelling: skaakwebwerwe (nasionaal en internasionaal), televisie (nasionaal en internasionaal), in radio-onderhoude asook in baie koerante.
-
Klofies presteer jaarliks in verskeie kompetisies, individueel en in spanverband: Waterkloof is die huidige SA Topskole kampioen, NuPower/Tuks-kampioen, Gauteng-kampioen, asook D4-distrikswenners in al die ouderdomsgroepe (O/19, O/17 en O/15). Ses Klofies het Suid-Afrika in 2012 internasionaal verteenwoordig: IM Watu Kobese (Wêreld Olimpiade), Jeandré du Randt (Wêreld O/18-kampioenskap), Roland Bezuidenhout (Wêreld O/16-kampioenskap en O/16 Olimpiade), Marcel Roberts (Wêreld O/16-Olimpiade), Sean-Luc de la Rey (O/14 Statebond-kampioenskap) en Suné du Toit (Wêreld O/14 dogterskampioenskap). Veertien Klofies het tans provinsiale kleure vir skaak!
-
Klofies het ‘n skaakuitruilprogram met die NTG sportskool in Oslo, Noorweë: ons toer elke tweede of derde jaar soontoe, gaan tuis by gasheerfamilies, kry afrigting by GM Simen Agdestein en kry internasionale blootstelling. In 2012 is ons genooi om op 21 Junie aan die Inter Continental Chess Challenge USA-Norway-RSA in Oslo deel te neem, waar ons tweede geëindig het.
-
Daar is vier Klofie FIDE-meesters by die skool: Kandidate Meesters Roland Bezuidenhout (gr. 9), Jeandré du Randt (gr. 11) en Marcel Roberts (gr. 10), asook Suné du Toit (Women FIDE Master).
Marisa van der Merwe (voormalige organiseerder) is as wenner van die 2012 Checkers Woman of the Year (Education) -kompetisie aangewys!
Klofies se O/17-span wen die SA Schools National Championships.
Skaaknuus: Die 2013-Waterkloof Internasionale Skaaktoernooi het van 27 Februarie – 2 Maart by Hoërskool Waterkloof plaasgevind. Dit was ‘n groot sukses met ‘n rekordgetal van digby 450 skaakspelers uit vier lande, waaronder van die sterkste spelers in Suid-Afrika. Baie nasionale en provinsiale spelers het in vyf afdelings meegeding. Klofies het puik gevaar te midde van die strawwe kompetisie. Ons nuwe skaak-afrigter, Nicholas van der Nat, was gesamentlike wenner van die A-afdeling en Bernard Koekemoer (gr.10) was ‘n pryswenner in die prestige afdeling. Verskeie oud-Klofie skaakspelers soos Cecile van der Merwe en Themba Nene het ook deelgeneem.
Ons bedank die skaak-ouerkomitee vir hul harde werk, asook die toernooi-borge soos: Uitkyk Vleismark, Moves for Life, NeoVox, Kasparov Chess Foundation-Africa en SAAB Grintek. Meer inligting, video-onderhoud en foto’s: http://africachess.net/2013/03/02/hive-of-activity-at-waterkloof-chess-open-south-africa/
Voorlopige skaakdatums vir 2013
Skaak 2012
Skaakorganiseerder: Judy-marie Steenkamp (012 347 7707 / 083 556 3475 /
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
.
|