Belgiese Uitruil
Kontakpersoon: Marinda Behr
Kontaknommer: 012 347 0277
Hoërskool Waterkloof het reeds sedert 1997 ‘n kulturele uitruil met ‘n skool in Brugge, St Leo – Hemelsdaele. Die doelwit van die Vlaamse uitruilskema is om die ooreenkomste tussen Afrikaans en Vlaams (‘n Nederlandse dialek) te ondersoek en die leerders die geleentheid te bied om hul horisonne te verbreed deur hulle aan die Vlaamse kultuur bekend te stel. Ons glo dat ons eie Afrikaanse kultuur hierdeur verryk word en dat leerders deur eie waarneming meer kennis opdoen oor die tradisie, kultuur, taal en lewensgewoontes van die Vlaminge. Dit is ook ‘n poging om leerders aan ‘n ander onderwysopset bekend te stel, sodat hulle ook op akademiese gebied verryk kan word. Die uitgangspunt van hierdie uitruil is dat alle kommunikasie tussen leerders onderling en met personeel in Afrikaans en Vlaams moet geskied. Alle uitstappies en lesings geskied ook slegs in Afrikaans of Vlaams.
Die uitruil behels dat twintig leerders van St Leo – Hemelsdaele ons skool gedurende hulle Paasvakansie in April besoek. Die Belge word na Kaapstad en ander besienswaardighede wat tipies van Suid-Afrika is, geneem. Gedurende ons Septembervakansie reis ons leerders weer na België vir ongeveer twee weke om meer van die Vlaamse kultuur te leer. Dagtoere na stede soos Gent en Brussels word onderneem, asook twee-dag toere na Amsterdam en Parys, waar verskeie bekende museums en toeriste aantreklikhede soos die Eiffel-toring, besoek word. ‘n Hoogtepunt van die reis is altyd die besoek aan Ieper waar talle Suid-Afrikaanse soldate in die Eerste Wêreldoorlog gesterf het, asook die sing van die volkslied by Menin Gate om die datum waarop die soldate in die veldslag gesterf het, te herdenk.