Instituut vir leierskap

Die Instituut vir Leierskap is in 2010 begin omdat elke kind in Hoërskool Waterkloof die reg het om sy/haar lewensvaardighede en selfvertroue te ontwikkel, hom-/haarself te leer ken en ontdek en om hom-/haarself in ‘n veilige omgewing wat geskep word, te assesseer.

Tradisionele leierskapsposisies bestaan ook in die skool, maar baie leerders se leierskappotensiaal kom nie tot sy reg in die fenomenale talentpoel by die skool nie.

Kundige aanbieders is genader om die verskillende kursusse aan te bied. Onderwerpe wat vreemd mag klink, word ook in die program gedek.  Die direksie van die Insitituut bestaan uit uiters bekwame sakelui en deskundiges op leierskapgebied wat sal poog om die loodspoging van die program sonder haakplek te laat verloop.

Die program is op Maxwell se sewe kwaliteite van leierskap gebaseer.  Leerders kry die geleentheid om sonder die druk van ‘n skriftelike toets, die nodige vaardighede prakties te bemeester.  ‘n Sertifikaat word aan die einde van elke jaar deur die skool en die aanbieder ontvang.  Erekleure word deur die skool en ‘n goue penning deur die ATKV toegeken indien ‘n leerder 30 punte in totaal in sy graad 8-, 9-, 10- & 11-jaar verwerf en kleure en ‘n silwer medalje vir 20 punte.  Die Instituut vir Leierskap hou ‘n merieteaand waar toekennings tydens ‘n glansgeleentheid aan leerders gemaak word.

Aanbiedingsessies duur ongeveer ‘n uur.  Afdelings soos noodhulp word oor vier middae aangebied. Koste beloop R500 per kind per jaar.

Hoërskool Waterkloof glo dat leiers die volgende kwaliteite soos deur Maxwell geïdentifiseer, moet bemeester:  visie, sinvolle kommunikasie, goeie menseverhoudings, karakter, vermoë, dapperheid en diensbaarheid.

Die program word met dié kwaliteite in gedagte, opgestel.  Spesialiste op elke gebied word betrek om die aanbiedings waar te neem.