Klofiekan
Kontakpersoon: Alma van der Walt
Kontakbesonderhede: 012 347 0277
Die koerant met leerders as redaksielede, verskyn vier keer per jaar waarin elke kwartaal se aktiwiteite weerspieël word.
Die KLOFIEKAN is die Klofies se spogkoerant wat aan die einde van elke kwartaal uitgegee word.
HET JY GEWEET …
- In 2019 wen Cilliers Diedericks R10 000 as die skrywer van die beste sportberig in Media24 se nasionale skoolkoerantkompetisie.
- In 2018 is die Klofiekan as die wenner van Beeld se skoolkoerantkompetisie aangewys.
- In 2017 eindig die Klofiekan as een van die Top 10 skoolkoerante in Media24 se nasionale skoolkoerantkompetisie.
Die redaksie
Die redaksie bestaan uit 26 lede en word deur leerders van elke graad verteenwoordig. Voornemende redaksielede doen in September van elke jaar aansoek om op die redaksie te dien. Suksesvolle kandidate is dien dan vanaf Oktober op die redaksie.
Vereistes as jy wil aansoek doen: ‘n Liefde vir taal en skryf. Goeie prestasie in tale. Leerders wat kreatief kan dink.Redaksielede word by spesifieke portefeuljes ingedeel, maar hul doen ook navorsing vir berigte wat buite hul portefeulje val. Op die manier ontwikkel die joernaliste hul ondervindingsveld.
Daar is geen addisionele kostes aan hierdie aktiwiteit verbonde nie.
Onderwysers betrokke by die Klofiekan
- Alma van der Walt (organiseerder)
- Leandré Eksteen (proeflees van berigte)
- Annuska Pretorius (proeflees van berigte)
- Gareth Harris (foto’s)
- Janneke Vahrmeijer (foto’s)
Die doel van die KLOFIEKAN is om
- belangrike en interessante skoolnuusgebeure te deel.
- die lesers op hoogte te hou van gebeure buite die skool d.m.v. nuusberigte, rubrieke, resensies, ondersoekende berigte en onderhoude.
- die ligter/snaakser kant van die skoollewe met die lesers te deel.
- lesers bloot te stel aan kreatiewe speletjies en fotoraaie.
- leerders die geleentheid te gee om joernalistieke vaardighede te ontwikkel.
Deelname aan die nasionale skoolkoerantkompetisie
Ons skryf jaarliks vir verskeie afdelings van Beeld en Media24 se nasionale skoolkoerantkompetisie in.
Wanneer ontmoet die redaksie?
Die jaar skop met ‘n werkswinkel af waartydens die redaksionele span onder leiding van die redakteur en sub-redakteur die doelwitte vir die jaar vasmaak en aksieplanne ontwikkel. Hierna ontmoet ons elke Woensdag tydens pouse. ‘n Korter werkswinkel vind aan die begin van elke kwartaal plaas.
Hoe werk die produksiesiklus?
- Die koerant word aan die einde van elke kwartaal uitgegee en die produksieskedule word dus terugwerkend saamgestel om by dié datum uit te kom.
- Die inhoud van die koerant (artikels, speletjies, foto’s, in-diepte ondersoeke, advertensies ensovoorts) word bespreek en beplan.
- Elke redaksielid ontvang daarna die lysie van artikels waarvoor hy/sy verantwoordelik sal wees, waarna met navorsing en onderhoude begin word.
- Keerdatums word vasgestel op die volgende basis:
- Artikels moet so gou as moontlik nadat ‘n aktiwiteit afgehandel is, ingegee word om geproeflees te word.
- Alle artikels moet ongeveer vyf weke voordat die koerant versprei word, gereed wees vir uitleg.
- Die bladuitleg word deur die redakteur en sub-redakteur bespreek waarna dit aan die grafiese ontwerper gestuur word.
- Twee weke voor verspreiding word die koerant na die drukkers gestuur. ‘n Proef word ontvang wat finaal goedgekeur word voordat die koerant in druk gaan.
As jy dus kreatief kan dink en skryf en jou vaardighede as joernalis wil verbeter, kom klop by Me. Alma van der Walt aan in K49 of in die Kultuurkantoor.