Orkes- en Koorproduksies

PROMENADEKONSERT
Die jaarlikse Promenadekonsert onder leiding van Dr. Ronelle Bosman het al ‘n instelling na afloop van die Klofie Kunstefees geword. Hierdie is waarlik ‘n spogaand wat die veelsydige talente van ons Klofie-leerders tentoonstel. Die skoolsaal word vir dié aand deur die mammas van die koor en orkes versier en ‘n spogete word tesame met musiek van hoogstaande gehalte bedien.

Die Klofiekoor en Klofie Konsertorkes tree elke jaar saam met die wenners van die junior en senior vokale en instrumentale afdelings van die Klofie Kusntefees op, en gaskunstenaars van die afgelope paar jaar sluit die koor van die Transoranje Skool vir Dowes en die Sêrgroep van die Luminous Daghuis van die Universiteit van Pretoria in.

TRES SCHOLARUM
Een keer per jaar kom die drie Afrikaanse hoërskole in die nuwe Ooste bymekaar om die beste items op die kultuurfront aan ‘n waarderende gehoor te lewer.

Tres Scholarum is die breinkind van Dr. Ronelle Bosman, en vind elke jaar in die Aula plaas. Die kore en orkeste van Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Garsfontein en Die Hoërskool Menlopark tree individueel op, waarna die aand op ‘n hoogtepunt eindig wanneer ongeveer 350 koorstemme en ‘n tagtigstuks massa-orkes saam die hartsnare roer.

Dit het nou al tradisie geword dat die aand met ‘n uitvoering van Highland Cathedral saam met ‘n doedelsakorkes plaasvind, en die repertorium van massa-items word jaarliks groter. Dit is ‘n aangrypende belewenis om die kore en orkeste van hierdie drie skole saam op een verhoog te beleef.