Tres Scholarum
Eenkeer per jaar kom die drie grootste skole in die nuwe Ooste bymekaar om ‘n aand van musiek uit die boonste rakke aan te bied. Dit het nou al tradisie geword om hierdie konsert in die Aula te hou, en die drie deelnemende skole is Hoërskool Waterkloof, Die Hoërskool Menlopark en Hoërskool Garsfontein.
Tres Scholarum is die breinkind van Ronelle Bosman, departementshoof Musiek van Hoërskool Waterkloof, en die eerste konsert is in 2016 gehou. Elke jaar se uitvoering het van krag tot krag gegroei, met die skole se kore en orkeste wat die beste op kultuurfront uit die Ooste van Pretoria aan ‘n waarderende gehoor opdis. Die aand word altyd afgesluit met ‘n paar massa-items en die watermerk van elke jaar se Tres Scholarum is die hoendervleis-mooi voordrag van Highland Cathedral waaraan ongeveer 350 stemme, ‘n tagtigstuks orkes en ‘n groep doedelsakspelers deelneem.